Hoekom is die Goddelose Voorspoedig?
 

Hierdie vraag pla elke gelowige wat probeer om heilig te lewe maar dit moeilik vind terwyl ander, wat boos en onheilig is, voorspoedig blyk te wees en ‘n goeie lewe het. Ons kyk somtyds na die valse profete en die wolwe in skaapsklere wat die kudde uitbuit, wat baie mense die verderf inlei en wat chaos in die kerk saai, en ons kan nie anders as om te wonder hoekom die Here hulle nie met die dood of ‘n plaag tref soos wat Hy in die Ou Testament gedoen het nie.

As hierdie vrae jou pla dan is jy nie alleen nie. Deur die eeue heen was daar baie mense wat groter as jy en ek is, wat met dieselfde vrae geworstel het. Job het gevra: “Waarom bly die goddeloses aan die lewe, word hulle oud en ryk en vernaam? …Daar is vrede in hulle huise, geen vrees nie, die straf van God tref hulle nie” (Job 21:7, 9). Asaf het gesê: “Ek het die hooghartige goddeloses met afguns bejeën toe ek hulle voorspoed sien. Hulle het geen kwellings nie, hulle is sterk en gesond, hulle het nie sorge soos ander mense nie, hulle het nie teëspoed soos ander nie” (Psalm 73:3-5). Dawid het gesê: “Hoe lank, Here, hoe lank sal die goddeloses hulle nog verlustig in die leed van ander mense? … Hulle vertrap u volk, Here, hulle verdruk die volk wat aan U behoort” (Psalm 94:3, 5). Jeremia het gesê: “Waarom is die goddelose mense voorspoedig en het die ontrou mense geen sorge nie?” (Jeremia 12:1).

Een van die eerste dinge wat ons moet verstaan is dat daar geen verband is tussen lewe, voorspoed, welvaart en gesondheid en die seëninge of oordeel van God nie. Rabbi Gamaliël se raad in Handelinge 5:38-40 word dikwels verkeerdelik toegepas om ‘n verband te bring tussen die voortbestaan van ‘n groep mense en organisasies as ‘n aanduiding dat dit die werk van die Here is. Dit is doodeenvoudig nie waar nie. Islam is nie die werk van God nie (in ‘n positiewe sin) en tog bestaan dit al vir meer as 1 400 jaar en is dit steeds voorspoedig. Die Roomse Kerk is ‘n bietjie ouer en is baie magtig en voorspoedig, maar dit verteenwoordig die afvallige kerk. Die Mormone is tans een van die vinnigste groeiende groepe, maar dit is ‘n sekte. Gevolglik bewys die blote feit van voortbestaan, groei en voorspoed niks nie. Om die waarheid te sê, as ‘n prediker of kerk baie gewild is, dan is dit meer waarskynlik dat hulle nie die ware Jakob is nie.

Aan die ander kant was die ware kerk altyd klein en was die ware profete altyd ongewild, vervolg en doodgemaak. Die pad was nog altyd smal en die Here se tugtigende Hand is swaar op diegene vir wie Hy lief is (Hebreërs 12:6). Gevolglik is probleme, vervolging en om verafsku te word nie tekens van mislukking nie, maar kan dit veel eerder tekens van aanvaarding wees en as bewys dien dat jy op die smal pad is. Dit beteken nie dat alle mense wat probleme het, gered is nie. Ons weet dit is nie waar nie. Gevolglik beteken die teenwoordigheid van probleme in jou lewe nie dat jou lewe reg is nie. Aan die ander kant is die afwesigheid van probleme is duidelike teken dat jy nie ‘n ware kind van God is nie (Hebreërs 12:8).

Dit is ‘n feit dat die goddelose dikwels voorspoedig is en ‘n natuurlike dood sterf sonder enige teken van God se oordeel oor hulle. Aan die ander kant het die regverdiges dikwels “gebrek gely, is [hulle] verdruk en mishandel” (Hebreërs 11:37). Laat ons daarom nie mismoedig en swak raak nie want dit blyk dat dit die stand van sake van die begin van tye was. Die regverdige Abel is doodgemaak terwyl Kain ‘n lang lewe gehad het. Dit lyk amper onregverdig dat Genesis 4 Kain se afstammelinge lys terwyl dit voorkom asof Abel nooit enige nakomelinge gehad het nie. Dieselfde kan van die valse profete van die Ou Testament gesê word. Hulle het in weelde geleef en is deur konings vereer, terwyl die ware profete gehaat was en doodgemaak is.

Daar was wel tye wat dit gelyk het asof die Hand van die Here vanuit die hemel gekom het om die goddelose te oordeel. Hulle is deur die aarde ingesluk terwyl sommige die een of ander vreemde dood gesterf het en ander weer verskriklike siektes opgedoen het. Dit het selfs ‘n paar keer in die Nuwe Testament gebeur. Dit is egter oorwegend die Here se doel om tot die Oordeelsdag te wag om mense te oordeel. Jesus het dit vir ons geleer in die gelykenis van die koring en die onkruid (Matteus 13).

Dit is baie moeilik om onreg jaar na jaar te verduur sonder om God se oordeel te sien. Jesus kon ook onmiddellike uitkoms gesoek het en wraak verlang het oor diegene wat Hom gekruisig, gespot en mishandel het. Maar “[t]oe Hy beledig is, het Hy nie terug beledig nie, toe Hy gely het, het Hy nie gedreig nie, maar alles oorgelaat aan Hom wat regverdig oordeel” (1 Petrus 2:23).

God is regverdig en Hy sal oordeel en vergeld. Die Bybel verseker ons herhaaldelik dat die Here die onreg sal uitwis. Hebreërs 10:30 sê: “Dit is mý reg om te straf; Ek sal vergeld”. Petrus kom tot die gevolgtrekking: “Die Here weet dus om dié wat Hom dien, uit beproewing te red, maar om die goddeloses te straf en vir die oordeelsdag gevange te hou” (2 Petrus 2:9).

Ons kan absoluut seker wees dat God alles sien. Niks is vir Hom verborge nie en elke regverdige daad en elke onregverdige handeling word in die boek van die hemel aangeteken. Dit voel somtyds vir ons asof God nie bewus is van ons swaarkry aan die een kant en die voorspoed van die goddelose aan die ander kant nie. Maar Hy is baie bewus. Hy sien nie net alles nie, Hy onthou alles. Daarom het ons nie nodig om ons oor die onregverdighede te verknies wat so oënskynlik ongesiens verbygaan nie. Ons het ook nie nodig om rekord te hou van enige iets nie, want God se rekord is perfek. Hy teken nie net die handelinge aan nie maar ook die ingesteldheid.

God sien, Hy onthou en Hy sal vergeld. Daarvan kan ons seker wees. Kyk hoe het Dawid dit gestel:

Moet jou nie ontstel oor skelms en jou kwel oor skurke nie, want soos gras vergaan hulle gou en soos groenigheid verdwyn hulle sommer. Vertrou liewer op die Here en doen wat goed is … jy [moet] in stilte op die Here vertrou en jou nie ontstel oor die voorspoedige lewe van 'n skelm nie. Moenie kwaad word nie, laat staan die woede, moet jou nie ontstel nie: dit bring net ellende. Die skelms sal uitgeroei word, maar dié wat hulle vertroue in die Here stel, sal in besit bly van die land. Nog 'n rukkie en daar sal geen goddelose meer wees nie; 'n mens sal hom soek waar hy was, maar hy sal nie daar wees nie. Dié wat nou verdruk word, sal die land besit en hulle verlustig in hulle welvaart. Die goddelose soek die ondergang van die regverdige en bedreig sy lewe. Die Here lag vir die goddeloses, want Hy sien hulle dag kom. Die goddeloses trek die swaard en span die boog om die hulpelose en die arme dood te maak, om dié wat die regte pad loop, te vermoor. Die goddeloses se swaarde sal hulle eie harte tref en hulle boë sal stukkend gebreek word. Die bietjie van die regverdige is beter as die rykdom van talle goddeloses, want die mag van die goddeloses sal verbreek word, maar die Here sal die hulp wees van die regverdiges. Die Here sorg vir die lewe van die opregtes, en wat hulle besit, sal hulle behou so lank hulle lewe. In tyd van nood sal hulle nie verleë staan nie, in tyd van gebrek sal hulle genoeg hê. Die goddeloses sal te gronde gaan, die vyande van die Here sal tot niet gaan; soos mooi weivelde wat in vlamme opgaan, so sal hulle verdwyn.”  (Psalm 34:1-20 uitgesoekte verse)